Die eie ek

Eie-ek

Galasiërs 2:20: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my lief gehad het en Homself vir my oorgegee het.

Ek moet met julle hierdie kosbare storie deel. ‘n Dogterjie het saam met haar pa en ma in ‘n medegelowige se huis oorgeslaap. Bokant die bed se kop-en-ent het ‘n duidelike prent van Yeshua teen die muur gehang. Die eerste oggend toe die dogtertjie wakker word, kyk sy in die groot spieël teen die muur aan die voetenent van die bed. Sy sien die prent bokant haar kop in die spieël gereflekteer. “Mamma!” roep sy verras uit, “Ek sien Liewe Jesus in die spieël.” Sy sit dadelik regop om beter te sien, maar toe kom sy tussen die prent en die spieël. In plaas van die prent van Jesus sien sy toe haarself in die spieël. Sy gaan dadelik weer lê en toe sien sy natuurlik weer vir Jesus in die spieël. Haar pa, wat die storie aan almal vertel, sê dit het ‘n hele aantal op en af posisies van sy dogtertjie ten gevolg gehad, waar sy in die lê posisie vir haar ma sê: “Mamma elke keer as ek myself sien, sien ek nie vir liewe Jesus nie en elke keer as ek nie myself sien nie, sien ek Liewe Jesus.” Is dit nie wow nie?

Die kern van ‘n groot geestelike waarheid word deur hierdie kinderlike verhaal blootgelê. Selfbewustheid en die verheffing van ‘n mens self vertroebel die bewustheid van Yeshua se teenwoordigheid in my en jou hart. Hoe kleiner ‘n mens in eie oë en ander se oë probeer wees, hoe duideliker word die Persoon van Yeshua verheerlik. Wat sê Abba Vader se Woord: “ek is saam met Yeshua gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Yeshua wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê”.

Kom ons bid saam:

Abba Vader, Yahweh Elohim, ons Loof en Prys U. Vader, vanoggend wil ons weer terug draai na U toe, na U wil vir my lewe. Abba Vader, vergwe my, kom was my skoon en kom lewe binne in my. Pappa God, mag dit só wees dat as iemand vir my kyk, hulle Yeshua in my lewe kan raaksien en dat ek die eie ek nooit in die pad sal staan nie. Alles tot eer en verheerliking van U grote Naam. Ons bid dit in Yeshua Ha-Mashiach se Naam. Amen.

0 Comments
Previous Post
Next Post