Ekstra olie

Ekstra-olie

Matteus 25:1-3: “Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig. Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie”

Yeshua, ons Bruidegom, is oppad en is jy ook só opgewonde? Ons is verseker nou in die tyd van die tien maagde, en as jy die storie mooi gaan lees sal jy sien hulle het almal gewag vir die Bruidegom (nes ons op Yeshua se koms wag). Maar toe die Bruidegom arriveer was slegs vyf gereed. Almal was maagde (rein gewees), maar slegs vyf se lampies was vol gewees. Vyf van die tien was verstandig en het ekstra olie saamgeneem, terwyl die ander vyf dit nie gedoen het nie.

Dit vat toe baie lank voor die bruidegom kom en hulle raak almal aan die slaap. Dit impliseer eerstens die daaglikse lewe wat ons mee moet aangaan totdat die Bruidegom, Yeshua, kom en tweedens dat dit onverwags sal gebeur. Volgens die Ou Testament (Joodse gebruik) het die gaste nooit geweet presies wanneer die Bruidegom gaan kom nie. Alhoewel niemand geweet het wanneer die brudegom kom nie, het die verstandiges gewag met ‘n afwagting; met ‘n versekering! Hoe wag ek en jy?

Toe die Bruidegom (Yeshua) kom, skrik almal wakker en maak hulle lampies reg, maar die vyf onverstandiges se olie was klaar. Hulle wil by die verstandiges olie kry, maar kan nie. Terwyl die onverstandiges gaan olie koop het, het die Bruidegom gekom en die deure gesluit vir die fees. Die verstandiges was voorbereid en is saam met die Bruidegom by die fees, terwyl die onverstandiges vir ewig buite moes staan.

Die lampie en olie simboliseer die geestelike voorbereding wat nodig is voordat ons saam met Yeshua na die hemel kan gaan – vir ewig en altyd. Ons persoonlike verhouding met Yeshua moet altyd reg wees anders hoor ons die skokkende woorde: “Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.

Die vraag is: brand ons lampies? Dit is as ons ‘n persoonlike verhouding met Abba Vader het en wanneer ons só lewe (volgens Sy riglyne) dat mense Yeshua in ons sien. Yeshua sê Matteus 5:14: “Julle is die lig van die wêreld.”

Hoe kry ons ekstra olie? Dit is wanneer ons vol is van Abba Vader se Woord. Yeshua is die Woord! (Johannes 1:14). Yeshua is ook die lig van die wêreld! (Johannes 8:12). As Yeshua die lig van die wêreld is, hoe brand my lig dan? Dis wanneer Yeshua binne in my lewe… Wanneer ek doodgegaan het in myself en Hy lewe binne-in my. Mag Yeshua se olie in jou are loop en mag ons gereed wees vir ons Bruidegom, Yeshua!

Kom ons bid saam:

Abba Vader, Yahweh Elohim, ons Loof en Prys U! Vader, vanoggend wil ek dood gaan in myself en vra Yeshua kom lewe binne-in my. Laat my lig skyn en kom vul my asseblief met U olie. Ons bid dit in Yeshua Ha-Mashiach se Naam. Amen

0 Comments
Previous Post
Maak-oop-my-oe
Next Post
Om-te-wag