Vreugde

Vreugde

Psalm 30:12: “U het my weeklag vir my verander in ’n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord…”

As ons soms na onsself of na mense luister is dit opvallend dat een saak vlak in die harte van baie mense lê: die behoefte aan vreugde!!

Mense vra deesdae een vraag al hoe meer: hoe kan ‘n mens, in tye soos hierdie, in omstandighede soos ons deesdae beleef, nog vreugdevol leef? Mense wil vreugde ervaar, hulle wil blye mense wees, hulle wil hulle lewens sinvol ervaar…. maar as jy kyk na wat in die koerante, op die nuus ens aangaan… steel dit al ons vreugde!! Mense sê: “As jy net weet wat in my lewe aangaan, my finansies, my huwelik, my werk of my kinders …. dan sal jy verstaan hoekom daar geen vreugde in my lewe is nie!”

Maar hoor wat leer Abba Vader my: “Om vreugdevol te leef, is ‘n opdrag van Abba Vader!! Dit sê Filippense 4:4 baie duidelik: ‘Wees bly’. Asook Psalm 118:24: ‘Dis die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees!’.Ja ons is geskape om, naas baie ander dinge, gelukkig te wees. En as ons vreugde in die lewe misloop, loop ons daarom een belangrike rede vir ons bestaan mis. Want vreugde, leer Abba Vader ons, is in ‘n sekere mate een van die grootste geheime van die lewe!!

Julle ken die liedjie dis so lekker om die Here te dien… Dis so swaar om die laste te dra…? Ons trek so swaar aan omstandighede en dinge wat ons vreugde steel!! Die vraag is hoekom is ons egter baie min kere blye mense? Wat is die probleem? Ek en jy kan baie redes noem, maar miskien is die belangrikste rede vir ons gebrek aan vreugde dat ons so dikwels juis nie die dinge doen waarvoor ons geskape (en gered!) is nie!!!

Dit is soos iemand een keer gesê het: ons sluit onsself in ‘n donker hok in die middel van ‘n donker kamer toe, en dan kla ons dat Abba Vader ons daar hou. In kort: ons weier eintlik om die vreugde van elke dag, van elke dag wat Abba Vader vir ons geskape het, te ervaar. Wat is die vreugde waarvan Abba Vader praat?

Die vreugde waartoe Abba Vader ons opdrag gee, is nie oppervlakkige of gewone plesier nie. Gewone plesier is iets wat ons tydelik bly kan maak, dat ons tydelik van ons sorge en kommer kan vergeet, maar as die soort plesier verby is, is die kommer en sorge maar weer daar.

Die vreugde en blydskap waartoe Abba Vader ons opdrag gee is egter nie ‘n vreugde wat ons vir onsself kan skep nie, ons kan dit net ontvang!!! Ah hoor gou gou …ons kan ware vreugde net ontvang as ‘n gawe deur Abba Vader se hand.

Ware vreugde is dankbaarheid!! Dankbaarheid vir die feit dat ek vandag, in hierdie dag wat Abba Vader vir my gegee het, nog te kan leef, al is alles in hierdie dag nie reg nie. Wanneer ek en jy besef my lewe is ‘n geskenk uit die hand van Abba Vader en selfs meer, ek en jy is ‘n gawe aan hierdie wêreld, en Abba wat van my en jou vra nie om net self vreugde te ervaar nie, maar ook om die bron van ander se vreugde te wees!! Juis omdat hierdie dag, elke dag, deur Abba Vader aan my en jou gegee is, en omdat, sê Filippense 4:5, in hierdie dag Abba naby aan my is!!

Want al kan alles in hierdie dag hoe verkeerd wees….Abba Vader is by ons. Ons is nie alleen nie!!! In hierdie dag leef ons dan waarvoor ons geskape is…om in Abba Vader se teenwoordigheid, as Abba Vader se kinders, onder Sy versorging te kan lewe.

Ware vreugde is een van die vrugte van die Gees…. m.a.w as Abba Vader se asem binne in my is ..is ek vreugdevol!! Dit is hierdie dankbaarheid vir die gawe van elke dag, en die gawe van lewe in daardie dag.

Ware vreugde is die leef, die wandel elke dag, saam met Abba Vader. Om op te staan in die oggend en te sê: “Abba Vader wat kan ek saam met U doen vandag!”

Paulus …sit in die tronk en sê: “Verbly julle altyd in die Here. Weer eens sal ek sê: Verbly julle!” (Fil. 4:4).

Omdat ek en jy lief is vir Abba Vader, hom gehoorsaam en ywerig volhard in die werk wat Hy ons gegee het om te doen, is ons lewe sinvol en dit verskaf ons vreugde.

Met oë van geloof sien ons ook hoe naby ons aan Abba Vader se beloofde nuwe Jerusalem is!! Hoeveel seëninge en redes tot vreugde sal daar dan tog wees! (Ps. 37:34).

Werklike vreugde kom van Abba Vader se Gees en dit floreer in moeilike tye.

Ons sê so baie: “Ja maar.. kyk hoe gaan dit met my!! ”

Ek verstaan kind van God en ek is jammer dit gaan moeilik, maar as ons verstaan hoe Abba Vader ons beproewings gebruik om ons geloof en karakter te bou, het ons ook rede tot blydskap!! Kyk wat skryf Paulus: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.” (Romeine 5:3-4) Hierdie tipe vreugde beteken nie dat ons noodwendig altyd van oor tot oor moet glimlag nie. Daar is tye wat ons niks het om oor te glimlag nie.

Ware vreugde is nie om ‘n ‘masker van geluk’ op te sit nie. Ware vreugde beteken dat ons die blydskap wat in ons is moet uitleef, die vreugde wat ons het omdat ons weet dat ons verlossing in Yeshua veilig is. ‘n Predikant het op ‘n keer gesê: “Vreugde beteken nie dat lyding afwesig is nie. Vreugde is die teenwoordigheid van Abba Vader.” Mag Abba Vader die God van hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees! (Rom 15:13)

Kom ons bid saam:

Abba Vader, Skepper van Hemel en aarde, ons loof en prys U!! Abba Vader kom blaas U asem in my, kom vul my met U gees …dat ek ook die vrug van vreugde kan dra asb Abba Vader om ook vanoggend net te kan sê: “Dankie vir vandag ek wil vandag opnuut my hand in U hand sit en saam met U wandel!” Leer my Abba om my vreugde in U te vind want U woord sê: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.”(Ps 37:4)! Abba Vader my hartsbegeerte vanoggend is: ” Open Up the sky ..fall down like rain..I don’t want blessing… I want You!” ek bid dit in Yeshua se Naam, die Lam van God. Amen. Shalom!!

 

0 Comments
Previous Post
Vrede